STOMP POTLODE, MONDELINGE KONTRAKTE EN SERWITUTE

Volgens 'n ou spreekwoord ís die stompste potlood nog altyd beter as die skerpste geheue.

As algemene reël erken ons reg mondelinge ooreenkomste as geldig en bindend. Dit bly egter goeie praktyk om ooreenkomste eerder op skrif te stel. Anders bestaan die moontlikheid dat daar twyfel of dispute kan ontstaan wat die uitvoering van die ooreenkoms sal vertraag.

Sekere ooreenkomste moet regtens op skrif wees om geldig en afdwingbaar te wees. Die belangrikste hiervan is die wetlike vereiste dat alle ooreenkomste waardeur onroerende eiendom verkoop of geskenk word (ook waar enige belang in grond mee gehandel word), op skrif gestel moet word en deur die betrokke partye onderteken moet word om enigsins geldig en afdwingbaar te wees.

Die Hoë Hof het onlangs uitspraak gegee in 'n geval waarin die gevare van informele ooreenkomste duidelik illustreer word. Hier het 'n bejaarde egpaar met finansiële probleme hul huis aan hul skoonseun verkoop. Dit was die verkopers se bedoeling dat die kooptransaksie onderhewig sou wees dat hulle lewenslank in die huis sou kon woon. Ongelukkig was hierdie mondelinge reëling nie in die skriftelike ooreenkoms vervat nie.

Met verloop van tyd het die dogter en skoonseun se huwelik gewankel en die huis is aan 'n buitestaander verkoop. Die ouerpaar het hulle tot die hof gewend in 'n poging om hul informele ooreenkoms van lewenslange gebruiksreg af te dwing.

Hulle was onsuksesvol. Die Hof bevind dat die gewaande bewoningsreg 'n persoonlike serwituut oor die eiendom daar sou stel. Dit sou net geldig wees indien dit op skrif gestel was en deur die betrokke partye onderteken was. Vir so 'n serwituut om afdwingbaar te wees moet dit ook formeel by die Registrateur van Aktes op die titelkate geregistreer wees. Indien dit wel behoorlik op die titelakte geregistreer was, sou hierdie bewoningsreg teen enige party en spesifiek ook teen die huidige en enige toekomstige eienaar van die grond afgedwing kon word.



PRIVATE MAATSKAPPY: HOE PRIVAAT IS JOU REGISTER VAN LEDE?

Alle maatskappye - publieke sowel as private maatskappye - moet regtens 'n register byhou waarin die name, adresse en aandeelhouding van alle lede van die maatskappy aangedui word.

Die Hoogste Hof van Appèl het onlangs bevestig dat -
Hierdie register in geheel oop is vir enige lid van die publiek wat navraag doen en wat die nominale vasgestelde administratiewe fooi aan die maatskappy betaal. Dit geld ook vir maatskappye wat heeltemal in privaat besit is.

'n Direkteur of beampte van die maatskappy wat weier om toegang tot die maatskappyregister te verleen, of wat weier om te voldoen aan 'n versoek vir 'n afskrif of uittreksel uit die register, maak hom of haar aan 'n strafregtelike oortreding skuldig.
Iemand wat vir hierdie inligting aansoek doen, hoef geen redes daarvoor aan te voer nie. 'n Hof sal slegs in uitsonderlike gevalle weier om openbaarmaking af te dwing. Die maatskappy of sy amptenare sal moet aantoon dat daar werklik spesiale omstandighede teenwoordig is, soos byvoorbeeld dat die inligting vir onwettige doeleindes gebruik gaan word.
In hierdie betrokke geval het die direkteure van 'n aandeleblokmaatskappy geweier om hulle lede se besonderhede aan 'n ander groep bekend te maak. Hierdie groep wou die lede direk nader met hulle voorstel van 'n oorname. Die direkteure het hulle daarop beroep dat hulle hul lede se privaatheid wou beskerm; dat hulle hul teen roofsugtige praktyke wou beskerm en dat hulle wou keer dat hul lede onder druk geplaas sou word om 'n voorgestelde aanbod tot oorname te aanvaar.

Die hof beveel egter dat die aansoekers volledige toegang tot die registers moet verkry. Die hof sê dan ook dat die stigting van 'n maatskappy om vrylik aan die openbare handelsverkeer deel te neem, per definisie nie 'n private aangeleentheid is nie.



DIE GEVARE VAN 'N DOMICILIUM ADRES: WANNEER IS 'N DOMICILIUM DIENING ONGELDIG?

Partye nomineer dikwels in skriftelike kontrakte hul domicilium citandi et executandi - 'n tegniese term vir die adres wat jy kies om alle toekomstige regskorrespondensie en kennisgewings te ontvang. Diening van dokumente by hierdie adres word as geldig beskou of jy nou die kennisgewing of dokumente ontvang of nie en nieteenstaande die feit dat jy intussen van die perseel getrek het.

Kies dus 'n gepaste domicilium adres - een waar gelewerde dokumente, dagvaardings en kennisgewings wel tot jou persoonlike kennis sal kom. Onthou ook om die ander party skriftelik in kennis te stel wanneer jy jou domicilium adres gaan verander.

Skuldeisers moet kennis neem dat betekening op 'n domicilium adres ook nie absoluut is nie; die hof het steeds die diskresie om sodanige diening te aanvaar of nie. So het 'n bank hul dagvaarding onder 'n rots op die leë erf geplaas wat deur die verbandskuldenaar as sy domicilium aangedui is. Die Hoë Hof bevind dat behoorlike betekening nie plaasgevind het nie.

Hoewel die verbandskuldenaar die stuk grond as sy domicilium adres aangedui het, bevind die Hof dat die bank geredelik oor 'n magdom ander inligting en kontakbesonderhede van die skuldenaar moes beskik. Onder die omstandighede vind die hof dit onaanvaarbaar dat die bank geen ander pogings aangewend het om die skuldenaar te kontak om haar in kennis te stel dat hulle die drastiese stappe gaan neem nie.



VERBRUIKERS EN VERSKAFFERS - ONTHOU HIERDIE DRIE VERBRUIKERSREGTE - EERSDAAGS HIER!
Neem kennis - hierdie is slegs 'n basiese opsomming van 'n paar uitgesoekte verbruikersbeginsels - daar is beperkinge en uitsluitings. Verkry advies indien jy enigsins onseker is of waar 'n dispuut ontstaan.
Die Verbruikerswet is nou geskeduleer om op 31 Maart 2011 in werking te tree. Wanneer dit gebeur sal verbruikers heelwat regte bykry en nuwe beskerming geniet by die verskaffing van goedere en dienste.

Hierdie beskerming is net van toepassing op -
Individue, en
Kleiner regsentiteite, vennootskappe en trusts (voorlopig diegene met bates of jaarlikse omsette van onder R3 miljoen).

Verbruikersbeskerming en verbruikerswetgewing is 'n omvangryke en dinamiese vakgebied. Hou ten minste die volgende drie algemene beginsels in gedagte : -

1. Jy is geregtig daarop dat die goedere wat aan jou verskaf word van 'n goeie kwaltiteit sal wees; redelikerwys geskik vir die doel, sonder gebreke, duursaam en veilig sal wees. Dit beteken dat indien enigiets wat jy aankoop nie werk nie, of gebrekkig is of onveilig is -
   a. Mag jy die goedere na die verskaffer terugneem - sonder enige heffing of boete - op die verskaffer se
        koste en risiko - binne ses maande vanaf die lewering van die produk; en

  b. Jy kan van die verskaffer verwag om die aankoopprys aan jou volledig terug te betaal; of om die goedere
       te vervang of om dit te herstel. Dit is jou keuse ; die verskaffer mag nie aan jou voorskryf watter keuse om
       uit te oefen nie.

2. Indien jy sou kies dat die item herstel word en die herstelwerk hou nie (beide die onderdele en die arbeid word vir ten minste 3 maande gewaarborg);of indien enige verdere gebreke in hierdie waarborgperiode ontdek word, mag jy die item terugneem en jou geld terugkry of 'n nuwe item ter vervanging ontvang.

3. Waar jy enigiets voortspruitend uit direkte bemarking koop (die verkoper nader jou met die versoek dat jy iets koop), het jy as koper 'n afkoelperiode van 5 besigheidsdae om die transaksie te kanselleer - sonder dat jy vrae oor jou kansellasiebesluit hoef te beantwoord of dit te verduidelik. Die verskaffer het dan 15 besigheidsdae om enige betaling wat jy gemaak het, aan jou terug te betaal.

As verbruiker moet jy jou nie laat intimideer nie - die bepalings van die Verbruikerswet sal ten gunste van die verbruiker gevolg word en vervang enige voorwaardes of bedinge in die ooreenkoms wat in stryd is met die Verbruikerswet.

(Verskaffers: hou in gedagte dat waar 'n verbruikersreg bestaan, daar ook 'n teenoorgestelde verpligting op die verskaffer geplaas word. Hersien dus alle interne dokumentasie en beleide met hierdie as riglyn.)



GEMEENREGTELIKE "HUWELIK" - LIGLOOP, EEN VAN DIE PARTYE GAAN AAN DIE KORTSE ENT TREK

'n Gemeenregtelike "huwelik" word as 'n reël nie in Suid-Afrika as 'n wettige huwelik erken nie; ongeag van hoe lank die partye al bymekaar bly en ongeag of daar kinders uit die saamwoonverhouding gebore is.

Daar is wel gedeeltelike en verspreide statutêre beskerming (soos belastingvoorskrifte of die regte en verpligtinge van ongetroude vaders ingevolge die nuwe Kinderwet. Die harde werklikheid is dat daar by die beëindiging van 'n verhouding, bitter min finansiële beskerming gebied word aan enigeen van die partye, tensy hulle formeel met mekaar getroud is of in 'n geregistreerde siviele verbintenis saamwoon.

Konsepwetgewing wat ten doel het om Huishoudelike Verbintenisse ("Domestic Partnership Bill") te reguleer, hang al sedert 2008 in die lug.

Enigiemand wat in 'n ongereguleerde saamwoonverhouding betrokke is, behoort advies hieroor in te win en moet dan voortgaan om 'n behoorlike saamwoonooreenkoms te sluit. Hierin moet ten minste die volgende aangespreek word:-
Hoe bates verdeel moet word by die beëindiging van die saamwoonverhouding;
Wie sal watter kontrakte, laste en uitgawes in stand hou, soos huurooreenkomste, verbande, mediese dekking en lewenspolisse, telefoonrekeninge, ensovoorts;
Onderneem die partye enige vorm van wederkerige onderhoud teenoor mekaar;
Enige ander praktiese aspekte wat by die beëindiging van die lewensverhouding ter sake sal wees - veral waar daar minderjarige kinders betrokke is.
As daar geen ooreenkoms in plek gestel is nie, stap elkeen van die twee partye weg net met sy of haar bates, tensy een kan aantoon dat hulle in universele vennootskap met mekaar getree het. In praktyk is dit nie so maklik om 'n vennootskap te bewys nie; gevolglik kan lewensmaats sonder 'n sent en dikwels sonder huisvesting gelaat word, selfs nadat hulle dekades saamgewoon het.

Selfs indien die party daarin slaag om 'n universele vennootskap aan te toon, is dit nie te sê dat 'n 50/50 verdeling gemaak gaan word nie. Die Hoë Hof het onlangs 'n verdeling van 30% van 'n besigheidsman se netto bates aan die vrou gemaak wat vir 19 jaar saam met hom gewoon het. Die hof bevind dat sy haar bydrae tot die sukses van sy besigheid gemaak het deur 'n stabiele gesinsomgewing te skep; eerder as deur enige direkte daaglikse betrokkenheid by sy sakebedrywighede.

Deur vroegtydig 'n behoorlike ooreenkoms op te stel waarin die finansiële aspekte van 'n saamwoonverhouding uiteengesit word, kan toekomstige litigasie, onsekerheid, kostes en vertragings vermy word.

FEBRUARIE SE WEBWERWE: GROOT AFSLAG MET GESAMENTLIKE KOOPKRAG!

Iets om na te kyk vir besighede sowel as die koperspubliek, juis omdat besparings moontlik is - gesamentlike aankope deur "Group Buying"!

Dit werk so: -
1. 'n Verskaffer van goedere of dienste probeer sy mark vergroot. Hy bied die koperspubliek 'n stewige afslag aan op 'n spesifieke produk of diens.
2. Die afslag is egter onderhewig daaraan dat 'n voorafbepaalde getal bestellings van die koperspubliek ontvang word.
3. Sodra die kritieke getal eenhede bestel word, skop die afslag in en word die transaksie beklink.
Almal wen in die proses!
Die verskaffer verhoog sy verkoopsgetalle;
Die verbruiker kry sy winskoop.
Die konsep is so oud soos die berge - "You bring me volume, I give you discount". Die internet maak dit nou makliker om die partye bymekaar uit te bring. Hierdie aanwending van die internet het in China as die "Tuangou" fenomeen ontstaan; dit het vinnig internasionaal versprei en word nou ook in Suid Afrika gebruik.

Verskaffers ontwerp en gebruik hul eie stelsels en pakkette. Daar is wel gespesialiseerde webwerwe wat die hele proses hanteer - hulle onderhandel en beding volume-afslagpakkette met verskaffers; hulle hanteer die aanbiedinge van die publiek en fasiliteer die uiteindelike transaksies.

Probeer gerus die volgende plaaslike webwerwe: -
Group Buying by
www.groupbuying.co.za - klim vroeg in met hierdie nuwe webwerf, met hul afskopkompetisie wat tot 9 Februarie hardloop.
One Day Only te
www.onedayonly.co.za
Twangoo Suid Afrika te
www.twangoo.co.za
UbuntuDeal te
www.ubuntudeal.co.za
Wicount te
www.wiicount.co.za

Net die beste vir Februarie - en onthou dat dit ♥ Valentynsdag ♥ is op 14 Februarie.


IN HIERDIE UITGAWE - FEBRUARIE 2011