Kyk na die video waar daar belangrike vrae aan Mnr Grobler gevra word oor huweliksvoorwaarde kontrakte
      HUWELIKSVOORWAARDE KONTRAKTE
Jy trou binnekort en dit is ‘n opwindende tyd van jou lewe. Daar 101 dinge om oor te dink en ‘n legio dinge om te doen
voor daardie groot dag aanbreek.
 
Maar het jy nagedink oor jou Huweliksvoorwaardekontrak?
 
(a)    Het jy geweet dat ‘n Huweliksvoorwaardekontrak (HVK) uitgevoer moet word in die teenwoordigheid    van ‘n
Notaris voor jou troudag?
(b)    Weet jy wat die gevolge is, as jy versuim om ‘n HVK aan te gaan?
 
Binne Gemeenskap van Goedere
 
As jy nie ‘n HVK aangaan nie, sal jou huwelik outomaties binne gemeenskap van goedere wees. “Binne gemeenskap”
beteken dat jy en jou aanstaande een gesamentlike boedel gaan hê, baie soos ‘n vennootskap, waar elke gade ‘n halwe
aandeel van die gesamentlike boedel besit. Skulde aangegaan deur die een gade (selfs onbetaalde skuld aangegaan voor
die huwelik!) sal gewoonlik afdwingbaar wees teen die gesamentlike boedel. In sommige gevalle, sal die een gade die
ander se toestemming nodig hê, bv. waar ‘n motorkar of vaste eiendom gekoop word. Daar is risiko’s in die geval van ‘n
huwelik binne gemeenskap van goedere, aangesien indien een gade in skuld beland, trek hy of sy ook die ander een in
die skuld in. Indien een insolvent verklaar word, is die ander een ook insolvent, selfs al het laasgenoemde niks te doene
gehad met die laste en skuld nie.
 
Buite Gemeenskap van Goedere
 
Die huwelik met HVK sal buite gemeenskap van goedere wees. Elke gade mag met sy of haar bates handel sonder die
ander een se toestemming. Dit is natuurlik so vanuit ‘n regsoogpunt – in die praktyk sal dit waarskynlik wys wees vir die
een om die ander te raadpleeg voordat ‘n groot uitgawe aangegaan word. Sover dit die reg aangaan, het elke gade sy of
haar afsonderlike boedel, en kan daarmee volgens goeddunke optree. As een in skuld beland, sal dit nie noodwendig die
ander een raak nie.
 
Die Aanwasbedeling
 
Dit is ‘n regverdige bedeling, veral vir jong paartjies. Die bedeling sal outomaties van toepassing wees by ‘n huwelik buite
gemeenskap van goede, tensy dit spesifiek uitgesluit is in die HVK. Die aanwasbedeling kom slegs in werking by
beëindiging van die huwelik (óf dit is as gevolg van afsterwe óf egskeiding). Waar dit in werking tree word die toename in
waarde van die boedel van elke gade sedert die troudatum, gelykop verdeel tussen hulle. Die een wat minder aanwas as
die ander een gehad het, kan van laasgenoemde se boedel eis, die bedrag gelykstaande aan die helfte van die verskil in
aanwas tussen die twee boedels. Die onderliggende gedagte is om die huwelik te hanteer soortgelyk aan ‘n vennootskap
tussen die gades, sodat wat ookal gedurende die huwelik in batewaarde aangewas het, tussen hulle verdeel word, al het
elkeen sy of haar afsonderlike boedel gehad.

Dit is moontlik om bepaalde bates uit te sluit van die werking van die aanwasbedeling. Die Notaris sal u hieroor kan
adviseer.
 
‘n HVK word aanbeveel as:
 
Een of meer van die gades ‘n besigheid bedryf of gaan bedryf;
Een of beide ‘n professionele praktyk het;
Een heelwat meer bates as die ander een het;
Een alreeds aansienlike skuld het of dalk gaan hê;
Hulle graag onafhanklik van mekaar wil optree wat betref die aangaan van kontrakte.

 Wat Om Te Doen
 
Sou jy ‘n HVK wil registreer, moet jy so gou moontlik ‘n prokureur raadpleeg wat met HVK’s werk. Moenie te lank wag
nie! Die wet vereis dat die HVK voor die sluiting van die huwelik in die teenwoordigheid van die Notaris uitgevoer word. 

Jou prokureur sal afskrif van julle identiteitsdokumente benodig, sowel as waar die aanwasbedeling toepaslik gemaak
gaan word, besonderhede van elkeen se netto boedel-aanvangswaarde. n Tipiese HVK sal jou R2000 tot R4000 kos. Ons
totale fooi vir ‘n standard HVK is R2 200