Hantering van Onroerende Eiendom in Oorledene se Boedel

Onroerende eiendom is grond en alle aanhegtings (soos geboue) daarop.

Die vraag wat ons wil probeer antwoord, is: hoe hanteer die eksekuteur residensiële eiendom, vakansie-eiendomme, plaaseiendom en standplase wat deel uitmaak van die boedel?

Uit die aard van die saak sal die bepalings van die testament, die kontantvloei en skuldlas en die belange van die naasbestaandes oorweeg moet word.

Daar sal, as daar ‘n testament is, uitvoering gegee moet word daaraan, tensy dit in die omstandighede onmoontlik of
onprakties is.

Dit sal onmoontlik wees wanneer daar soveel skuld in die boedel is, dat die eiendom verkoop moet word. Dit is ook onmoontlik wanneer die bemaking in die testament strydig is met ‘n wetsbepaling, soos bv. die Wet op Onderverdeling van Landbougrond.

Dit kan onprakties wees wanneer ‘n twee slaapkamer residensiële eiendom aan drie kinders bemaak is en al drie is getroud met kinders.

Daarom is ‘n eksekuteur soms genoop om die eiendom te verkoop, of soms gaan die erfgename ‘n herverdelingsooreenkoms aan.

Die eiendom wat met ‘n verband beswaar is kan alleenlik oorgedra word as die verband gekanselleer word of die verbandskuld oorgeneem word deur die persoon aan wie die eiendom oorgedra word. Die verbandhouer (die Bank of instansie wat geleen het op die eiendom) moet toestem voor kansellasie kan plaasvind en dit sal hulle eers doen as die volle uitstaande bedrag óf inbetaal is óf deur waarborge verseker is. ‘n Verbandoorname moet ook eers deur die Bank of
finansieringsinstelling goedgekeur word.

Dikwels word ons gevra of eiendom op ‘n minderjarige se naam geregistreer kan word. Ja, dit kan gedoen word. Hou egter in gedagte dat indien die eiendom van ‘n minderjarige later verkoop moet word, ‘n hofaansoek in die Hoërhof gedoen moet word om toestemming te verkry.

i) Vererwing
Waar die gade die eiendom moet verkry en ‘n halwe aandeel kom hom/haar toe a.g.v. hulle huwelik wat binne gemeenskap van goedere was en die ander helfte kragtens die testament, word ‘n artikel 45 endossement op die titelakte aangevra by die Registrateur van Aktes. (So ‘n prosedure is ietwat goedkoper as ‘n normale transport).
Verkoop U Huis Sonder ‘n Agent Kliek Hier
Geen hereregte is betaalbaar waar die transport as gevolg van vererwing is nie. Daar is wel erfbelasting en ander dienstegelde vir ‘n paar maande vooruit betaalbaar aan die munisipaliteit om ‘n uitklaring te kry vir indiening by die Aktekantoor (en by deeltitel-eiendomme ‘n heffingsuitklaring by die bestuursliggaam of hulle bestuursagent).

Die oordrag van eiendom moet deur ‘n aktebesorger hanteer word.
Indien u ons wil versoek om dit te hanteer, gaan ons die volgende dokumente benodig:

1.Afskrif van eksekuteursbrief
2.Afskrif van testament (as daar een was), andersins afskrif van die sterfkennis en naasbestaande verklaring
3.Afskrif van onlangse verbandrekeningstaat en munisipale rekeningstaat
4.Afskrif van die Likwidasie- en Distribusierekening
5.Identiteitsnommer en volle name van persoon wat oordrag van eiendom gaan verkry
6.By gemeenskaplike boedel, afskrif van nagelate gade se identiteitsdokument

Die fooi vir die transport sal ons by navraag kwoteer.
Voor ons kan kwoteer, moet ons weet:
i) Of die oorledene binne gemeenskap van goed getroud was en of sy/haar gade die oorledene se halwe aandeel in die eiendom erf
ii) Of vruggebruik of ander serwitute ook geregistreer moet word kragtens die bepalings van die testament
iii) Of daar in die geval van deeltitel-eiendom, ‘n uitsluitlike gebruiksarea is wat deur ‘n notariële akte gehou word (bv. garage of balkon)
iv) Die waarde van die eiendom soos uiteengesit in die likwidasie- en distribusierekening

ii) Verkoping
Indien die Eksekuteur die boedeleiendom wil verkoop, moet hy in gedagte hou dat die mense wat belang het by die verkoop (m.a.w. die erfgename) daarvoor skriftelik moet toestem. Die Meester moet die verkoping ook goedkeur en hy sal dit nie doen sonder die belanghebbendes se toestemming nie. Ons stel voor dat ‘n addisionele klousule by die koopooreenkoms ingevoeg word, soos volg:
“Die Verkoop is onderhewig aan die goedkeuring of endossement van die Meester soos vereis deur artikel 42(2) van Wet 66 van 1965.”
Indien u ons wil versoek om die oordrag aan die koper te hanteer, sal ons die volgende dokumente benodig:
Afskrif van eksekuteursbrief
Afskrif van koopooreenkoms
Afskrif van onlangse verbandrekeningstaat en munisipale rekeningstaat
Afskrif van koper/s se identiteitsdokument en besonderhede van sy/haar/hulle huwelikstatus
Skriftelike toestemmming van erfgename
By gemeenskaplike boedel, afskrif van nagelate gade se identiteitsdokument